Featherbrooke se Jasmyn is ’n natuurkind met albei haar kaal voete stewig en gemaklik op moederaarde. Moet egter nie geflous wees nie. Hierdie skaam 21-jarige sanger mag dalk in haar hart ’n plaasmeisie wees, maar op die verhoog kan sy maklik in ’n asemrowende superster verander.
Die titel van Jasmyn se debuutalbum, Jy wens jy kon sê, som alles op. “Almal wat al in ’n stadium van hul lewe ’n punt bereik het waar hulle nie genoeg of die regte woorde gehad het om hul gevoelens uit te druk nie, behoort daarmee te kan vereenselwig. Die album bied ’n vorm van begrip, motivering, hoop en liefde.”
Haar strelende, suiwer stem met Keltiese ondertone is salf vir die siel. Maar om die tipe musiek wat sy vertolk, te beskryf, moet Jasmyn verwys na die musiekinvloede – onder andere Enya en Josh Groban – wat haar na ligte, tHi og klassieke, popmusiek gelei het. “Ek is passievol en opgewonde oor die taal van lirieke en melodieë. Ek glo musiek is die taal wat almal verstaan.”
Jasmyn se inkennigheid het die wêreld egter amper van ’n puik kunstenaar ontneem. “Ek het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword en sou altyd vir myself sing. Net die beeste op die plaas, my beste vriend, Dominique (’n Suid-Afrikaanse Boerperdmerrie), en die blomme in die veld was bevoorreg genoeg om my gehoor te wees. Ek was so skaam dat ek nooit sou sing waar mense my kon hoor nie – ek het eerder die veld ingestap, op een van die plaasmure gestaan en die koeie met my vertoning vermaak.”
Sy het haar loopbaan begin deur ander kunstenaars se liedjies te sing, soos Deliver Me deur Sarah Brightman, Memory uit Cats en You raise me up deur Josh Groban. “Ek het amper moed opgegee omdat die vrees my wou versmoor, maar toe kry ek hoop en skielik het my lewensbeskouing verander. Ek het besef daar steek meer in as om net ’n liedjie te sing; die doel is om ’n boodskap aan die luisteraar oor te dra. My hele perspektief het verander en saam met dit het my gevreesde vyand, vrees, gesterf.”
Sy het meer vertroue in haar vermoëns ontwikkel en het uiteindelik die Face vs Voice 2010-titel, wat ’n kunstenaar se stem, talent en voorkoms beloon, gewen. Die kompetisie word jaarliks deur Eurovision OGAE (Eurovision se internasionale bewonderaarsklub) aangebied. Hierdie nuweling het die toonaangewende titel gewen nadat 30 beoordelaars uit 26 lande vir haar gestem het. Sy is ook deur Eurovision OGAE genooi om as ’n Suid-Afrikaanse verteenwoordiger aan die Eurovision 2011-kompetisie, wat in Duitsland aangebied is, deel te neem.
“Ek het twee Eurovision-liedjies wat in Afrikaans vertaal is, gesing – Dit is vir jou en Boodskap vir jou hart. Ek het die voorreg gehad om die verhoog vir die OGAE Res van die Wêreld 25ste herdenkingskonsert met hierdie twee liedjies te open.”
Die liedjies op Jasmyn se album is versigtig beplan en gekies en beteken dus almal baie vir haar. “Ek het die reis om een met elke liedjie te word, baie geniet, en dit het my baie genot verskaf om die geboorte van elkeen te ervaar – hulle het almal lewe gekry en dit was ’n aangrypende gevoel. Die eerste liedjie op die album, Awaiting, is egter vir my die spesiaalste. Dit handel oor my persoonlike hunkering om my Skepper te ontmoet – om op Hom te wag, Sy stem iewers te hoor en te voel dat Hy naby is. Die koor en die lirieke van die liedjie het in ’n droom na my toe gekom en ek het net gewéét hoe om die res van die liedjie te skryf. In hierdie droom het ek ’n pragtige vrou gesien wat soos ’n engel skyn. Sy het my wakker gemaak met ’n sterk stem terwyl sy die koordeel gesing het. As ek nie wakker geword het nie, sou ek die liedjie sekerlik vergeet het. Ek het die koor onmiddellik met my selfoon opgeneem. En dit is hoe Awaiting gebore is.”
Die album wissel van ligte klassieke musiek tot pop-, Keltiese en kontemporêre musiek. Daar is 13 liedjies op die album, waarvan sewe Afrikaans en ses Engels is. Dit sluit sewe oorspronklike werke in. Die Africa Choir, Impulse en Voices Plus, ’n koor van die Universiteit van Johannesburg, wat tydens twee van die liedjies optree, gee die musiek ’n dieper dimensie en ’n ryk nuanse van Suid-Afrikaanse kultuur.
“Te danke aan die ondersteuning van die span, die produksieleier, Johan Heystek, my ouers en MMX Studios, was die produksieproses glad nie moeilik nie. Ons het ’n jaar bestee om die album te vervaardig en alles het perfek uitgewerk – daarvan is die eindresultaat die bewys. Ek is gretig om net my beste aan die publiek te bied – niks minder nie.”
Hierdie meisie-meisie, wat graag mooi aantrek met juweliersware en serpe (sy is mal oor die winter net omdat sy kan serpe dra), sê indien sy nie die vermaakwêreld betree het nie, sy sou gaan studeer het om ’n dieetkundige te word. “Ek stel baie belang in gesonde leefstyle en om te weet watter spesifieke uitwerking voedsel op die liggaam het.” Jasmyn konsentreer nie net op haar gesondheid en liggaam nie, maar ook op haar voorkoms. Sy word altyd in stylvolle uitrustings gesien en skryf dit toe aan haar ma, Estriana, se voorbeeld. “Sy is ’n elegante vrou wat spesiale aandag aan haarself en haar voorkoms gee. Sy lei my wanneer ek onseker is oor wat ek na ’n spesifieke geleentheid moet aantrek. Ek kan altyd op haar eerlike mening staatmaak.”
As jy nog nie van die Suid-Afrikaanse meisie met die stem van ‘n engel gehoor het nie, doen jouself ’n guns en luister hoekom kundiges in Suid-Afrika en Europa so baie lof vir Jasmyn het. ‘n Mens kan nie help as om verlief te raak op haar voorkoms, stem en talent nie.
Details: Stuur ‘n e-pos na info@jasmyn.za.net om ‘n bespreking te doen of besoek www.reverbnation.com
of “like” haar Facebook-blad www.facebook.com/singende.jasmyn
Fotograaf: Leana Clunies-Ross 011 726 3568 of besoek www.leanaphoto.com